Arrie de Lange tree uit na 53 jaar in duiwesport
<<< Back to WC Pigeon Racing Home Page / Articles Archive  

Article by Joseph Carelse
Article Published 11 July 2011

Arrie de Lange tree uit na 53 jaar in duiwesport

Oom Arrie de Lange jarelange lid van Montagu Posduif Klub (MPK) het na 53 jaar in duiwesport uitgetree.
Oom Arrie (nou 82) se liefde vir die sport het op die ouderdom van 6 jaar in Bonnievale begin toe hy en sy pa ‘n duif met rys in hul garage gelok het. Hy het toe al die wens gehad om eendag ‘n duiweboer te word.


Arrie de Lange voor sy duiwehok

Hy vertel dat hulle destyds tot sover as Worcester (ongeveer 70 km) moes reis om duiwe te mandjie. Vandag is hy nie spyt nie, want die klomp trofee in sy voorkamer getuig hiervan. Oom Arrie het hom as ‘n ikoon in die duiwesport gevestig en sy stempel behoorlik afgedruk. Die Wynland duiwe-boere ken hom as ‘n ghoeroe op die langpad- hy het gereeld ‘n hele paar duiwe onder die eerste tien uit Klerksdorp geklok. Met die eerste Klerksdorp in 1973 het hy tien duiwe geklok en so die eerste 9 plekke asook die 11de plek behaal. Dit was ook nie vreemd as sy duiwe al die Vrydagaand op sy “trap” land nie.

In 2001 het een van sy henne uit Klerksdorp ‘n Rooi Cock saamgebring wat hom in oom Arrie se hok tuisgemaak het. Die meeste duiwe in sy hok het die jare hierna uit die Rooi Cock gestam. Hy het hierna sewe Klerksdorpe gewen met die kinders en kleinkinders van die welbekende Rooi Cock. Die cock is deur baie van sy vriende in die kontrei “geleen”, maar wenners uit die cock kon slegs uit oom Arrie se hok geteel word.


SA WL 05 6695, dogter van die welbekende Rooi Cock

Oom Arrie is al deur kennisse versoek om, om op hulle onkoste, duiwe by Sun City in te skryf, maar dit het hom nie bygeval nie- hy was te trots. In 2004 het hy 11 eerste plekke in die klub behaal. Hy het veral goeie raad vir jong duiweboere gehad. Sy duiwe is gou deur duiweboere opgeraap toe hulle van sy uittrede hoor. Hy bly tans in Huis Uitvlught op Montagu, maar loer nog gereeld by klublede op Saterdae in wanneer hulle duiwe inwag. Sy trofee het hy met die grootste liefde aan MPK geskenk en daarvoor is die klub baie dankbaar.



Links | Advertising | Web Design | Contact | Lost Birds

Western Cape Pigeon Racing 
This website is for the Pigeon Racing fraternity in general. Comments, Union results, club champions and any other issues relating to pigeon racing in general are welcome. Please Note that all copy including text and images are copyrighted. For reprints please contact the webmaster for permission.