Article by Randy Engelbrecht
(P R O – Federated Board of Homing Unions)
Article Published 12 June
2009
Nuwe Besem vir FBHU!
Einde van 'n Era!
Na agtien jaar van absolute uitstekende en getroue diens as voorsitter
van die grootste duiwe organisasie in die land, naamlik die Federated
Board of Homing Unions het mnr Yusuf Moerat tydens die Raad se 2009
konferensie besluit om die tuig neer te lê.
Op tagtig jarige ouderdom en liggaamlik nie meer so sterk nie
was dit seker 'n bitter moeilike besluit, maar mnr Moerat het
gevoel die tyd is reg om te gaan en het die leisels oorhandig
aan Mnr. Lourens le Roux, vorige ondervoorsitter van die Raad
en ook voorsitter van die Blackheath Distrik Duiwe Vereniging.

Yusuf Moerat
Yusuf Moerat verdien werklik al die eer vir die onbaatsigtige
uithouvermoë en energie wat hy as voorsitter van die Raad
ten toon gestel het om dit so n magtige liggaam te maak. Hy vlieg
alreeds duiwe sedert 1943 en was daar met die totstandkoming van
die Federated Board sowat 78 jaar gelede. Tydens sy amp het die
Raad gegroei vanaf 300 tot ongeveer 700 lede vandag. Sy persoonlike
prestasies was nie hier ter sprake nie, maar hy het oor die jare
die Raadkampioenskap seker meer as enige ander lid gewen.
Volgens hom was daar vele hoogtepunte, maar die een wat werklik
vir hom uitstaan was die jongduiwe (YBS) veiling wat op sy inisiatief
ingestel is en oor die jare gegroei het tot dié hoogtepunt
van die Raad se wedvlugkalender waar groot kontantpryse gewen
kon word. Die kompetisie vir 'n motor het ook 'n onafskeidbare
deel van die Raad se wedvlugte geword. 'n Borgskap is ook bekom
vir 'n nuwe sleepwa wat die grootste in die land is. 'n Ander
hoogtepunt was die eenwording van die sport onder een nasionale
liggaam (SANPO) waarvan mnr Moerat later beskermheer geword het.
Een van sy doelwitte wat hy graag nog wil sien is dat die Raad
eendag sy eie saal sal bekom waar sy lede alles onder een dak
kan doen. In dieselfde asem het hy ook al die lede gelukgewens
met hul prestasies die afgelope jaar, veral die Raadskampioen,
Mnr. Derek Knoetse en dié wat by die Nasionale hokke so
goed presteer het. 'n Spesiale woord van gelukwensing het gegaan
aan mnr Anwar Herbert wat die motor twee jaar na mekaar gewen
het. Mnr Moerat het sterk gepleit vir die behoud van die motor
nadat talle lede met dit wou wegdoen as gevolg van die huidige
finansiële krisis in die land. Hy het tog aan die nuwe bestuur
gevra om alles in hul vermoë te doen om die sport so goedkoop
as moontlik te probeer hou.
Laastens het mnr Moerat 'n pleidooi aan lede gedoen om nooit
hul voorgangers te vergeet nie. Om name te noem sou onregverdig
wees, maar hy het hom op lede beroep om hul nagedagtenis altyd
te eerbiedig en sou graag 'n ere-rol wou voorstel om diegene vir
altyd te onthou vir hul onbaatsugtige opofferings deur die jare
in die FBHU. Hy het die nuwe bestuur voorspoed toegewens en verseker
van sy voortgesette ondersteuning waar dit nog mag benodig word.
Hy het ook belowe om sy “regmatige” plek as top duiweboer
weer in te neem en die lede gewaarsku om hul maar goed voor te
berei vir die nuwe seisoen. Die Raad het hom terstons as lewenslange
erelid verkies.
So het die Federated Board of Homing Unions dan afskeid geneem
van 'n legende in die duiwesport, 'n man wat diep spore getrap
het as duiweboer en as administrateur, 'n man vir wie ons ewig
dankbaar sal wees vir sy jarelange diens tot die sport, Yusuf
Moerat! Totsiens!

Lourens Le Roux
En so begin die Federated Board dan 'n nuwe era met die aanstelling
van mnr Lourens Le Roux as die voorsitter.
'n Man wat alreeds sedert 1962 saam met sy pa met duiwe begin
boer het. Na 'n paar wye draaie tot in die Noord Vrystaat het
hy hom in 1991 in Kuilsrivier gevestig. In 1998 het hy by die
FBHU aangesluit as lid van die Blackheath Homing Society. Met
die stigting van die Blackheath & District Homing Union in
2001 was hy verkies as die eerste voorsitter. In 2006 was hy ook
gekies as onder-voorsitter van die Federated Board.
Lourens Le Roux sê dat hy besef watter groot skoene hy
sal moet volstaan om die Federated Board tot selfs groter hoogtes
te lei as sy voorganger en wil graag hulde bring aan mnr Yusuf
Moerat vir alles wat hy deur die jare opgeoffer het
Hy voorspel egter 'n blink toekoms vir die Federated Board met
die nuwe gees van entoesiasme en visie wat die nuut-verkose amptenare
ten toon stel. Met die ondesteuning van al die duiweboere in die
organisasie glo hy die Federated Board of Homing Unions kan net
van krag tot krag gaan vorentoe.